OSB NUUSBRIEF  DES 2019

Ek het die laaste 13 jaar aaneenlopend kinders in Hoërskool Gimnasium gehad en het dinge rondom die skool en koshuis as ouer ervaar. Met interskole het ons eers baie wenne en toe baie verlore gehad , maar vanjaar op ‘n hoogtepunt met ‘n goue jaar afgesluit.

Ek was nog altyd ‘n trotse en passievolle Oud Gimmie en met ‘n sameloop van omstandighede het ek nou in hierdie posisie by die OSB beland.  Hier het ek bewus geraak van al die gesprekke rondom kwytskeldings, privatisering, uitbreidings en die verbeterings wat op die skoolterrein nodig is. Opsommend : die skool het lojaliteit , geld en kinders nodig!

Ek wil  elkeen wat op die bestuur dien, bedank vir hul bereidwilligheid en toewyding om daarvan ‘n sukses  te maak.
Ek is klaar opgewonde oor volgende jaar se reünies, interskole en die strikdasfunksie.

Geseende Kersfees en ‘n Voorspoedige 2020!

Niel, Saartjie, Alma, Japie en Johan



Beste oud Gimmies


Paarl Gimnasium het n baie goeie jaar gehad en op die sportveld het ons vir HJS en HMS vermorsel en volgens alle aanduidings gaan ons weer goeie matriek uitslae hê.
Ek wil namens die OSB aan Mnr Bateman en sy personeel se baie dankie, ons is trots op julle en ons skool.

Ek wil ook dankie sê aan die OSB vir die goeie jaar wat hulle gehad het met 2 baie susesvolle funksies in die jaar naamlik die damesfunksie wat 200+ dames bygewoon het, en saam met die bemarkingskantoor, die Strikdasfunksie wat deur 600+ mans bygewoon was.

Vir 2020 beplan die OSB om op die 31ste Julie, die aand voor interskole, 'n deftige Groot Bragfunksie ,in die CR-Sentrum aan te bied en
ek wil 'n beroep doen dat alle Reüniegroepe wat na Interskole gaan kom, die aand as deel van julle reëlings sal insluit en om dit met ander oud Gimmies te kom deel . Meer inligting sal vroeg Februarie uitgestuur word.

Ek sal dit baie waardeer as 'n klomp oud Gimmies wat nog nie ingeskrewe lede van die OSB is nie, dit as 'n nuwejaarsgeskenk by die OSB sal aansluit.

Mag almal 'n goeie en geseënde vakansie en Kersfees hê.

Groete van Gimmie tot Gimmie

Johan Visser alias Kalahari


Aangeheg is die OSB Jaarverslag 2019 - Kliek HIER



OSB Bestuur 2020:

Niel Neethling (’82) Voorsitter, Jean Coetzee (’94) Ondervoorsitter, Amanda du Toit (’89), Riana Gibson (’95), Jeanne-Marié Erasmus (’92) Kantoor, Neil Grobbelaar (’83), Minette Burger (’93), Andries Fokkens (’95), Kosie Slabber (’68), Erick Senekal (’92), TC Botha (’89), Kalahari Visser (’66), Elzette Visser (’73), Nico Momsen en Adele Grobbelaar.

Reünieleiers vir 2020 – Maak asb seker julle inligting is reg by julle reünieleiers.

REÜNIE-LEIERS 2020



Terugvoering van 2019 se reüniegroepe – Geniet dit!!


1959


Toe ek 31 jaar gelede my ou klasmaats opkommandeer het vir n 30 jarige reunie vir 1989, het een van my ou groot maters gevra: "Hoekom 'n reunie?"
My antwoord was bloot:
"Ons is 30 jaar gelede as vriende uitmekaar. Is ons nou vyande van mekaar wat mekaar nie weer of mag sien nie??"

Na ons 60 jarige reunie vanjaar was die oproep eenparig dat ons voortaan elke 5 jaar reunie moet hou en nie slegs elke 10 jaar nie.

Namate mens ouer word, word die versugting al hoe sterker om weer die herinneringe aan GIM op te roep en te herleef..
Wat n wonderlike voorreg was dit nie wat ons, die oorlewende 19 uit n klas van 57,
gegun was om weer saam jolyt te hou en fees te vier by ons ou ALMA MATER nie!!
Dit is elke 10 jaar n nuwe ervaring en geleentheid  om ou vriendskappe te hernu en te geniet.
Ons afskeid in 1959 was:  Vaarwel Gimmieland ons tyd is verby. Soet herinnerings sal steeds by ons bly.
Na 60 jaar kan ons slegs se: ICH HATT EINE KAMERADEN  EIN BESSER FINDS DU NICH!!

Fanie Gresse (Sameroeper)

My dank en waardering aan JEAN SMIT vir sy leiding en ondersteuning in 1989.
Ook aan Nico Jooste en Johannes Smit sedert ons eerste reunie.


1969


Na ‘n stillerige 20-, 25- en 30-jaar reünie, het die 1969 matriekgroep vroeg in 2018 al begin om ‘n grootse poging in te sit om die 50ste, die beste een nog te maak.  Dit is dalk nie wat ‘n mens wil hoor nie, maar met die 50ste reünie, is almal in die groep rondom 68 jaar oud.  Alles in ag genome, sal Vader Tyd dalk ‘n groter invloed op die 60ste reünie uitoefen as wat ‘n mens dalk wil erken.  Ons het dus as ‘n groep besluit dat ons 50ste GROOT gaan wees.

In Mei 2018 is ‘n Paarl Gim 1969 Matriek WhatsApp groepie begin en gou-gou was daar oor die 40 lede aktief.  Almal was vol opgewondenheid, verwagtinge en ywer vir Donderdag 1 Aug 19.  Van die 78 matriekulante in 1969, is 14 reeds oorlede, 17 lede was onopspoorbaar en van die 47 wat opgespoor is, het daar 30 opgewonde Gimmies en hul gades die Donderdag by die klubhuis opgedaag.  Alhoewel baie oor die jare kontak gehou het, was daar heelparty wat mekaar vir die eerste keer in 50 jaar weer in die oë gekyk het.  Van heinde en verre was ons daar, Moeras van Nieu Seeland, ‘n groep uit Namibië en ‘n hele paar verspreid oor die hele RSA.  Die wat dit nie kon maak nie, is heeltyd op hoogte van alles met fotos en videos gehou.

‘n Groot groep het klein Gim en die ou koshuis agter die Toringkerk besoek en die vreugde en trane van herinneringe,  was  aandoenlik.  Terug by die klubhuis is daar verwoedelik gesels en gekuier en ons het laat die middag traag uitmekaar gegaan.

Vrydag het elkeen die Groot Brag en rugbywedstryde by die skool individueel bygewoon en ‘n paar het die biertent besoek. AGV van baie mense, min parkeerplek en min buite die reüniegroep wat mekaar herken/onthou het, het die Vrydag nie baie aftrek gekry nie.

Saterdag was ‘n ander storie, ons groep het vroegoggend vir brekfis by Kikka Boulevard ontmoet en die gekuier het waar ons die Donderdagmiddag opgehou het, aangegaan.  Toe is ons vol gees ingepak op die hoofpawiljoen vir die rugby.  Vir ons groep wat interskole in 1969 met 6 – 9 verloor het, was was dit veral senutergend.  Daardie ekstra 9 minute tyd het ons byna gebreek!

Ons was nog nie klaar gekuier nie en het toe ook by Laborie Sondag tot laatmiddag gekuier.  Met groot hartseer en meer trane as wat ons gedink het, is daar laatmiddag vir oulaas hartroerend van mekaar afskeid geneem en eensklaps was ons 50ste reünie verby.  Dankie aan almal wat gesorg het dat hierdie een ‘n kosbare kleinnood was.


1979


Veertig jaar gelede was 123 skoliere saam
Almal was deel van Paarl Gim se bestaan
Seuns en dogters het mekaar met respek gedien
Wanneer sal ons ooit mekaar weer sien

Na matriek het ons uitmekaar gespat
Op verskillende plekke het ons gaan swot
Seuns het in die army manne geword
Almal het begin werk, lank en kort

In 2018 het ons die 40jr reunie begin beplan
Met n oefenlopie steek ons toe aan die vlam
Die whatsapp groep begin net groei en groei
En ons kom agter hier begin ietsie broei

Stadig maar seker het Aug 2019 nader gekom
Ons verlang na mekaar - mooi, lelik, slim en dom
Oor die wereld heen het klasmaats gevlieg
Onder almal was n opgewondenheid, moet ek bieg

Vrydagaand het ons mekaar by Le Bac ontmoet
Die weersiens na al die jare was alte soet
Met kaartjie op die bors loop en soek jy na mekaar
Party met n pens, ander weer sonder n haar

Die aand het net beter en beter geraak
Veral toe ons onderwysers n draai kom maak
Saam kon ons lag en n wyntjie geniet
Met mentors wat ons destyds soveel kon bied

Laataand het ons buite gaan kuier
Met party manne wat nog net-net luier
Een vir een het hulle stil-stil verdwyn
Hoe warm gaan die son more weer skyn

By Faurestraat wag die perfekte wintersdag
Min wetende wat alles op ons wag
Die vroumense het reeds vroeg hul plekke ingeneem
Met maroen, groen en geel oral om ons heen

Voor die tyd het ek reeds vir die manne vertel
Dat hierdie span ook soos ons in '79 baie lekker jel
Hoe gepas sal dit dan nou nie wees
As hulle ook soos ons kan wen met n Gimmie gees

Die wedstryd self was n epiese stryd
Soos dit maar altyd is oor 100 jaar se tyd
Met die eindfluitjie was ons verlig en dankbaar gewees
Die span het gespeel met ons '79 gees

Ons laaste feesvier het toe aangebreek
Dis seer lywe en stywe kniee wat vir stoele smeek
Vir oulaas deel ons n wyn en n lag
Vir oumense was dit n vermoeiende dag

Sondagoggend het almal stil-stil gegroet
Wat gaan aan in elkeen se gemoed
Vir niks meer kon ons elkeen vra
Want Paarl Gim het ons al vir 40 jaar gedra

Dana du Toit


1989


In die aanloop van ons 30ste reunie het ek op ‘n paar geleenthede gehoor dat jou 30ste een van jou lekkerste reunies is – en na dese kan ek dit beaam.  Dit is tog asof almal nou-al vrede gemaak het met die “spore” wat kinders kry en grootmaak op hul lywe gelaat het – en ons mans is darem so net voor ons “midlife crisis” gevang om 30 jaar uit die skool te herdenk.

Daar is iets aan ‘n reunie op Gim se skoolgronde waar ons 5 jaar van ons lewens gesweet, skelm gerook en gevry het, wat die tafel dek vir ‘n ongelooflike Interskole week en reunie saamtrek.  En met die Gim masjien met Jeanne-Marie aan die stuur, was alles logisties ‘n reuse sukses.  Niks was onnodig of oordadig hanteer nie.  Kos was heerlik en gepas, drank was koud en in oorvloed, speeches was kort en die kuier en lag was die beste van als.

Naamkaartjies is natuurlik ‘n onontbeerlike noodsaaklikheid, want daar is altyd daardie een ou of girl wat jy nie sal kan onthou nie – al is daar ‘n .38-special teen jou kop… So dra jou naamkaart en leer die klasfotos voor die tyd.  Maar genoeg oor die reelings en organisasie – die kuier is waaroor dit gaan.

Vir baie van ons wat na skool ver weggegaan het vanaf die Paarl, is die ongelooflike gravitas van Gim in sy huidige vorm, seker die eerste aanknopingspunt.  Nuwe sportvelde, sentrums en infrastruktuur.  Ou en nuwe tradisies, vriendelike kinders en die reuse opwinding van Interskole week.  Dit merk jy sommer dadelik op as jy van die N1 af die dorp binnery – vir baie van ons ‘n nostalgiese ervaring.

Ek en my gesin het sommer Paarlberg gaan uitry en vir lank oor die mooiste vallei gegluur – en nerens is ‘n dorp mooier as net na die reen in die Paarl nie.  Velde is lowergroen, akkerbome met Gim en Boishaai versier, en orals is Interskole die enigste tema – selfs die cup-cakes in die Checkers.

Oud-Gimmies, oor een ding sal ek nooit spyt wees nie – en dit is my teenwoordigheid by my Gim-reunie.  Jy gaan besoek ‘n deel van jou geheue wat baie kosbare dinge weer ontsluit. Vriende wat almal maar die lewe moes beleef – droogtes in die Karoo, ouers wat oorlede is, kinders met uitdagings – alles wat ons almal maar elke dag moet “navigate”.  En dan sien jy, daardie aand in die Klubhuis langs die A-veld, dat ons almal steeds trots is om ‘n Gimmie te is, te is!

Mag die Son van geregtigheid, jou jaargroep bestraal.  Beleef dit!


1999


Die een groot verskil tussen 20 jaar reunie en die vorige jare se reunies is dat almal daar was vir dieselfde rede. Om baie weer na 20 jaar te sien, ander na 10 jaar en die vriende wat jy daagliks nog mee saam kuier. Maak nie saak in watter “groepie” jy op skool was nie, almal was daardie aand soos ou vriende.

Die woorde “hoe gaan dit met jou?” beteken regtig “hoe gaan met jou” en nie watter kar ry jy, wat is jou beroep, hoeveel geld het jy of wat is jou celebrity status nie. Almal was daar vir dieselfde doel, om lekker saam te kuier en om die interskole week te geniet en AL die Gim spanne wat gespeel het aan te cheer. En natuurlik is meeste se kinders nog klein, so mamma en pappa word bederf met n aand uit. ‘n Mens moet versigtig wees vir daardie lot! Die Saterdag oggend was almal natuurlik n bietjie/redelik broos, maar die opwinding om verder saam met jou klasmaats veld toe te gaan en die main interskole game te kyk het almal vroeg uit die bed gejaag. Natuurlik is daar nooit ‘n tekort aan gees nie en dit het sommer vroeg oggend al met n ontbyt begin om onsself weer reg te kry vir wat voorle…..

Die atmosfeer op die pawiljoen was hoendervleis! Om weer na 20 jaar saam met die ou gesigte te sit en die 1ste span aan te cheer was presies wat ons trots maak om n Gimmie te wees. Daardie “eenmaal n Gimmie, altyd n Gimmie” gevoel. Niks het daardie dag in 20 jaar verander nie (behalwe vir die pom pom girls voor die game natuurlik). Dit het soveel mooi memories terug gebring dat dit iets is wat ons as 1999 jaar groep definitief by ons 40 jaar reunie oor sal gesels.

“na n onvergeetlike ontspanne aand saam met klasmaats van 20jr terug, het ek met n ligte hoofpyntjie die lekkerste interskole wedstryd bygewoon. Dit was heerlik om vir die 1ste keer na skool op die pawiljoen te sit en weer saam met almal die gees te geniet! Eenmaal n Gimmie –Altyd n Gimmie”

“die aand was van begin tot einde een groot gimmie fees! Mens sou nie dink 20 jaar het verloop vandat ons in 1999 die skool verlaat het nie, ons het net aan gegaan waar ons 20 jaar later opgehou het met vriendskappe en ons Gimmie guts”


2009


Dit was n heerlike aand wat ons geniet het met 'n uitsig oor die hele Paarl. Met sonsondergang en ook die mooi liggies. Dit het ons sommer laat terug verlang na die tye wat ons dit daagliks kon deel met mekaar, veral die van ons wat nie meer in die Boland woon nie. Dit was Baie lekker om te sien hoe goed almal lyk en hoe Vriendelik almal is en hoe ou vriende en ander sommer nuwe vriende geword het. Ons is dankbaar en opgewonde dat Drosberg venue dit moontlik gemaak het dat ons klas (Mx2009) R7000 aan die skool kon skenk!! Dit is altyd lekker om terug te gee aan Gim om dankie te se vir alles wat Gim vir ons beteken.

Kontak ons


Tel: 021 872 1541/2/3
e-pos: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

FACEBOOKTWITTERINSTAGRAM

School-Communicator


Volledige kontak-besonderhede ...

2020 Kalender vir Ouers

Om 'n pdf weergawe van 2020 se kalender af te laai, kliek hier.

Paarl Gim Video

Streek Saamtrek Pretoria

Geesdans 2020

Gholfdag 2020

My School