
Paarl Gimnasium, waar ons uitnemendheid ‘n lewenswyse maak.
Sport is deel van die Gimmie-identiteit — ’n bron van trots, karakterbou en uitmuntende prestasie. Gimnasium se sportprogramme is van die sterkste in die land en ons atlete is landwyd én internasionaal bekend vir hul prestasie, tegniek en ingesteldheid.
Paarl Gimnasium is trots op ’n atletiekprogram van uitnemendheid, gebou op harde werk, holistiese ontwikkeling en ’n langtermynbenadering wat atlete van grondslae tot senior internasionale vlak oplei. Die program word ondersteun deur ervare en bekwame afrigters wat innoverende, maar beginselvaste tegnieke gebruik. Dit is die enigste program in Suid-Afrika wat oor ’n paalspringakademie en spesiale paalspringmatte beskik.
Die atletiekprogram het toegang tot uitstekende fasiliteite, insluitend ’n atletiekbaan, Tartan-oefenbaan, ’n paalspringakademie en die Sport en Leefstyl Sentrum. Hierdie infrastruktuur ondersteun atlete se ontwikkeling op alle vlakke.
Paarl Gimnasium-atlete neem deel aan groot byeenkomste soos Stellenberg, Curro Podium, Noord-Suid, Kwagga Top-10, Prestige, Bredasdorp Top-10, asook Suid-Afrikaanse Junior- en Senior-skolekampioenskappe.
Paarl Gimnasium Gholf bied ’n gebalanseerde en ondersteunende omgewing waar elke speler die geleentheid kry om sy volle potensiaal te ontwikkel.
Die skool neem met drie spanne deel aan die Boland Gholfliga gedurende sowel die somer- as winterseisoen. Jaarlikse toere sluit deelname aan die Affies Gholfweek in Pretoria en die Westville Boys’ High-toernooi in Sun City in.
Paarl Gimnasium se hokkieprogram ontwikkel spelers op ’n hoë vlak en word ondersteun deur ervare afrigters en uitstekende, moderne fasiliteite. Die skool beskik onder meer oor ’n hokkieakademie, twee volbeligte Astro-velde en ’n mini-Astro.
Die A-spanne neem jaarliks deel aan verskeie topskole-toernooie. Die o. 16- en o. 19-seuns- en dogterspanne (B- en C-spanne) neem deel aan die Cape Co-Ed-toernooi. Die o. 16A- en o .19A-seunspanne speel in die Parel Vallei-voorseisoentoernooi, terwyl die o. 19A-dogterspan deelneem aan die Springfield Voorseisoen, St Mary’s Waverley en die Girls’ Challenge. Die o. 16A-dogterspan woon die St Mary’s Kloof Fees sowel as die Girls’ Challenge by. Die o. 16B-dogterspan neem deel aan die Fairtree-toernooi, en die o. 14B-, o. 16B- en o. 19B-seuns- en dogterspanne kompeteer in die Winelands Cup
Paarl Gimnasium se krieketprogram ontwikkel spelers op ’n hoë vlak en word ondersteun deur moderne fasiliteite en ervare afrigters.
Die skool beskik oor ’n Gim-ovaal met beligting, twee addisionele krieketvelde, ses krieketnette en ’n binnenshuise krieketsentrum, wat uitstekende oefen- en wedstrydtoestande verseker.
Die o. 19A-span neem jaarliks deel aan die HJS Krieketfees, die SA-Skole-T20-toernooi en die Oppenheimer Michaelmas Krieketfees. Die o. 15A-span speel in die HJS Krieketfees en die Grey High Krieketfees. Die O.19B-span neem deel aan die HS Outeniqua Krieketfees, terwyl die o. 15B-span in die Kwagga T20 Krieketfees deelneem. Die o. 14A-span verteenwoordig die skool by die Charl van Rooyen Krieketfees.
Benewens hierdie toernooie bied die skool ook ’n interne kompetisie aan, naamlik die jaarlikse Big Bash en Junior Bash vir leerders in Graad 8–9. Paarl Gimnasium kompeteer verder teen vooraanstaande skole van regoor Suid-Afrika, waaronder Grey College en Bishops.
Paarl Gimnasium se netbalprogram bou jaarliks voort op sy sterk tradisie van uitnemendheid. Die program fokus op vaardigheidsontwikkeling, taktiese insig en spanwerk, en word ondersteun deur ervare afrigters en ’n toegewyde Netbalakademie wat spelers help om hul volle potensiaal te bereik.
Paarl Gimnasium beskik oor ses volbeligte netbalbane en ’n moderne Netbalakademie, wat uitstekende oefen- en wedstrydomstandighede vir alle spelers bied.
Paarl Gimnasium is die enigste skool in die Wes-Kaap wat al vyf sy netbalspanne na die Suid-Afrikaanse Kampioenskap deurgedring het, waarvan vier spanne onder die top drie in die land geëindig het. Die skool neem jaarliks deel aan verskeie toonaangewende toernooie, insluitend die Menlo-toernooi, die Paarl Gimnasium Netbalfees, Wildeklawer, Topskole, die Marius Schoeman Fast 5, Topskole Fast 5, die Fairtree La Rochelle-toernooi en die HMS-toernooi.
Rugby by Paarl Gimnasium het ’n ryk en trotse geskiedenis wat terugstrek tot die stigting van die Paarl Gim-Rugbyklub in 1902. Sedertdien het die rugbyprogram van krag tot krag gegaan en lewer dit jaarliks uitmuntende spelers op.
Die skool beskik oor ses rugbyvelde, ’n moderne sport- en leefstylsentrum en nuwe veldligte, wat optimale oefen- en wedstrydtoestande vir alle spelers verseker.
Paarl Gimnasium neem jaarliks deel aan van die land se voorste rugbytoernooie, waaronder die Noord-Suid-toernooi vir die o. 19A- en o. 19B-spanne, Wildeklawer, die o. 14 Outeniqua Rugbyweek, die Jean de Villiers o.16 Rugbyfees, sowel as die HJS Frans Malherbe o. 15-toernooi vir die o. 15A-span. Die skool neem ook deel aan die Marius Schoeman 7’s-toernooi.
Die jaarlikse Interskole teen Hoër Jongenskool Paarl (HJS) is een van die grootste interskole-terugkerende sportgebeurtenisse ter wêreld en lok oor die verloop van die week duisende besoekers.
Skaak by Paarl Gimnasium groei jaar na jaar — beide in deelname en in prestasie. Met toegewyde afrigters en ’n sterk, goed gestruktureerde kompetisieprogram bied Gim ’n uitstekende platform vir strategiese denke, ontwikkeling en uitnemendheid
Paarl Gimnasium neem jaarliks deel aan verskeie toonaangewende skaaktoernooie. Hierdie toernooie sluit onder meer die Grey College Skaaktoernooi, die Caledon-toernooi, die HJS Skaakfees en die Topskole-toernooi in.
Paarl Gimnasium Swem bied ’n ondersteunende en uitdagende omgewing waar elke swemmer die geleentheid kry om sy of haar volle potensiaal te bereik.
Die skool neem deel aan die Boland-liga se kompetitiewe swemgalas, waar ons teen skole soos Hoër Jongenskool Paarl, Hoër Meisieskool Paarl, Hoër Meisieskool Bloemhof, Hoër Meisieskool Rhenish en Paul Roos Gimnasium meeding. Interskole is, soos by alle sportsoorte, die hoogtepunt van die swemkalender.
Paarl Gimnasium se muurbalprogram groei jaarliks en bied spelers die geleentheid om op hoë vlak deel te neem aan kompetisies en toernooie. Die program fokus op vaardigheidsontwikkeling, strategie en sportmannegees, en word ondersteun deur ervare afrigters.
Paarl Gimnasium se tennisprogram bied spelers die geleentheid om hul vaardighede te ontwikkel en op ’n hoë, kompeterende vlak deel te neem. Die program word ondersteun deur ervare afrigters, ’n toegewyde Tennisakademie en moderne fasiliteite wat optimale oefen- en wedstrydomstandighede verseker.
Die o.19A-dogterspan neem jaarliks deel aan die Agnes Pauw-, CR van der Merwe-, Menlo Park-, Amanda Coetzer- en Die Punt-toernooie. Die o.19A-seunspan verteenwoordig die skool by die CR van der Merwe-, Menlo Park- en Die Punt-toernooie. Die o.15-spanne neem deel aan gemengde tennistoernooie, asook aan die Boland Landbou- en Dawid Samaai-tennistoernooie.
In die Boland-liga kompeteer Paarl Gimnasium teen top skole soos Hoër Jongenskool Paarl, Hoër Meisieskool Paarl, Hoër Meisieskool Bloemhof, Hoër Meisieskool Rhenish en Paul Roos Gimnasium.
Paarl Gimnasium bied jaarliks die Gerrie Berner-dogterstennistoernooi aan, een van Suid-Afrika se voorste nasionale dogterstoernooie. In 2026 sal die 22ste uitgawe plaasvind, met deelname van skole vanuit verskeie provinsies. Die voortgesette sukses van hierdie toernooi word moontlik gemaak deur die lojale ondersteuning van die skool se borge.
Paarl Gimnasium beskik oor ses tennisbane, waarvan drie volbelig is, asook ’n moderne Tennisakademie. In 2025 het ongeveer 100 leerders tennis beoefen, waarvan 60 aan liga-wedstryde deelgeneem het.